’n Nuwe uitstalling oor vroeë geskrewe Afrikaans het op 1 September by die Taalmuseum in die Paarl geopen. Die uitstalling het vier temas, nl. die heel vroegste geskrifte, Afrikaans in Arabiese skrif, die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) en Bybelvertaling in Afrikaans.
Die kurator, Catherine Snel, sê dit is die museum se doel om Afrikaans in al sy fasette uit te beeld. “As ʼn opvoedkundige instelling is dit ons plig om besoekers en veral leerders in te lig oor die volle omvang van die ontstaan van Afrikaans”.
Die uitstalling sluit ‘n transkripsie van Afrikaans soos gepraat deur slawe; en uittreksels uit dokumente deur koloniste in. Op die vloer is daar spraakborrels met uittreksels uit vroeë geskrewe Afrikaans en van die dak hang daar lewensgrootte foto’s van GRA- ede en van Abu Bakr Effendi, die Moslem geestelike wat van die eerste Afrikaanse publikasies in Arabiese skrif gepubliseer het.
Die navorser, Annemarie van Zyl, sê die museum wou veral graag die geskiedenis van Afrikaans in Arabiese skrif uitlig, omdat min mense daarvan weet. Besoekers kan hul naam of woorde vorm met magnetiese Arabiese simbole.
Snel sê inligting is selektief gebruik om besoekers se belangstelling in die onderwerp te stimuleer. “Die fokus is op die visuele en ons gebruik verskeie uitstaltegnieke om interaktiewe kommunikasie tussen ʼn nie-tasbare onderwerp en die besoeker te bewerkstellig.”
Vir meer inligting, skakel 021 872 3441 of besoek www.taalmonument.co.za









No user commented in " Nuwe uitstalling by Taalmuseum op Paarl "
Follow-up comment rss or Leave a TrackbackLeave A Reply